Nova: Die Begin
Thu 26 Aug 2010, 13:25 0 Comment(s) Report AbuseDie Bloemfonteinse skrywer Fanie Viljoen het 'n uittreksel uit sy nuwe boek spesiaal vir Volksblad-lesers gestuur.
Lesers is welkom om kommentaar te lewer.
'n Resensie van die boek verskyn op Saterdag 28 Augustus se boekeblad.
Uittreksel
Nova: Die Begin
Fanie Viljoen
1
Lucas Niemand roer onrustig in sy slaap. Hy lê inmekaargetrek op die motor se agtersitplek. Sy vingers krul in vuiste. ’n Droom pluk aan sy ooglede. Dit dring deur na sy brein en beelde begin vorm.
Hy het hierdie nagmerrie al verskeie kere gehad: Hy staan in ’n doolhof, vasgevang tussen blinkblou metaalwande. Helder lig stroom uit die vloer en laat dit soos glimmende water lyk.
Angs laat sy bors toetrek. Hy weet nie waar hy is nie. Hy weet nie hoe om uit te kom nie. Hy weet nie wat buite die metaalwande op hom wag nie.
’n Geluid laat hom omdraai. Dit was byna onhoorbaar, maar hy is seker daar was iets. Dalk was dit skuifelende voete. Hy wag en kyk, maar sien niks nie – totdat ’n hand uit die metaalmuur langs hom reik. Hy probeer wegkom, maar die mure om hom het nouer getrek. Hulle hou hom vas.
Die hand kom nader. Vingers huiwer bo sy arm. Toe vat dit aan hom.
Die aanraking is doodskoud.
Lucas ruk wakker. Die benoudheid bewe nog in sy bors.
“Lekker gedroom, Luc?” vra sy pa met ’n glimlag.
Lucas kyk verward om hom. Toe onthou hy: Hulle is in die motor op pad huis toe ná ’n vakansie by Stilbaai. Die motor is omtrent gepak met al die vakansiegoed: kussings, CD’s, ’n rugbybal, krieketkolf en nog drie plante op die vloer. Sy ma ry mos nie ’n kwekery mis nie. Sy karwei al wat ’n groen ding is terug huis toe, om te “kyk of dit in die tuin sal aard”.
“Moenie hom terg nie,” lag sy ma. “Die kind is moeg.”
Lucas skud sy kop. Hoekom moet sy ma hom altyd “die kind” noem.
“Die kind is altyd moeg,” sê ’n stem onder die hoop kussings.
Lucas skop na die lyf onder die kussings. ’n Oog loer uit.
“Ja, jy moet lekker loer, jou wirkop,” snou Lucas vir Gavin, sy jonger broer, toe.
“Ek klap vir jou dat jy net sterre sien,” kap Gavin terug.
“Dis donker buite. Ek sien hulle in elk geval. En jy sal ook as jy soos ’n normale mens met jou kop óp ’n kussing slaap en nie ónder ’n kussing nie.”
“Hei, julle twee!” waarsku hulle pa.
“Gavin het daarmee begin,” sê Lucas vinnig.
Gavin trek die kussing weer oor sy kop. “Gavin het eerste daarmee begin,” koggel hy.
Lucas mik ’n vuishou na sy broer, maar besluit om dit liewer te los. Dit help tog nie. Die vakansie is nog lank. Daar sal later baie tyd wees om die klein wirkop op sy plek te sit. En dan sal sy ma en pa nie kan keer nie.
Lucas soek vir sy PSP tussen al die goed op die motorsitplek. Hy kry dit half onder sy linkerbeen. “Vrekkit,” sê hy sag en sit dit aan.
“Sit sagter daai ding,” sê sy ma dadelik.
“Oukei, Ma!” Lucas rol sy oë. Dis nie iets wat hy sal durf waag om voor haar te doen nie. Sy sal hom gou wys wie is baas. Sy ma se tong kan skerper wees as enige kombuismes. Maar sy het ook ’n sagte kant wat sy nie te dikwels wys nie.
Ná ’n paar minute se speel, gooi Lucas die PSP verveeld langs hom neer. Hy kyk hoe die landskap in die donker verby die motor flits. “Pa, kan ons nie ’n bietjie stop om die dou van die lelies af te skud nie?” vra hy.
“Ag nee, Lucas. Wag nog ’n rukkie. Ons is amper op Nova.”
“Asseblief, Pa. My oë swem al, so vol is my blaas.”
Sy ma skud haar kop. “Soek tog maar ’n aftrekplek.”
Hulle ry nog ’n ent voor hulle ’n stilhouplek kry. Lucas is soos blits uit die kar. Met bene nog styf van die lang sit, kies hy koers na die naaste boom. Agter hom hoor hy sy ma soek na die waterbottel. Sy pa vra of daar nog padkos oor is. Gavin is stil. Hy het seker aan die slaap geraak onder die hoop kussings.
Iemand skakel die motorradio aan. Die musiek verdwaal in die naglandskap om hulle. Daar is geen ander motors op die pad nie. Dis asof die aarde geduldig wag vir dagbreek.
Toe hy klaar is, stap Lucas traag terug motor toe.
Die motorradio kraak.
“Kyk tog na die ding,” sê sy ma ergerlik. Sy pa skuif onder die geel dakliggie in. Met een arm oor die stuurwiel en die ander hand op die radio se knoppies soek hy na ’n stasie, maar almal kraak.
Sy ma klik haar tong. “Hier, sit liewer ’n CD in,” sê sy.
“Oh brother,” sug Lucas sag, “opera-getjank hier kom ons.”
Hy is reg. Maria Callas se stem dryf by die motor uit. Lucas skop vies na ’n klip. Hulle gaan nou na daardie kermende kat moet luister tot by die huis.
Maar hy is verkeerd. Die kermende kat knyp nog aan ’n hoë noot en toe is sy skielik stil. Die CD-speler is morsdood.
Die motor se ligte doof ook oombliklik asof iemand sy hande skielik dig oor hulle vou.
“En nou?” vra sy ma bekommerd.
“Dis die battery,” sê sy pa. “Moet wees.”
“Jy het dit ’n maand gelede vervang. Hierdie kar gaan ook deur batterye soos kinders deur ’n bak fudge.”
Die enjinkap klap oop. Sy pa se voete knars op die grys. Lucas hou hom van ’n afstand dop. Dit lyk of hy iets in sy hand het. Hy skud dit. Klik-klik, probeer hy die lig aanskakel.
“Die flitslig werk ook nie,” sê sy pa.
“Genade tog,” sug sy ma.
Lucas glimlag onderlangs. Ten minste is Maria Callas nou stil. Hy sien ’n vae skadu beweeg onder die enjinkap. Sy pa probeer in die donker die batteryklampe ontkoppel. Hy praat sag met homself en vloek een keer.
En toe, skielik, kom die onaardse dreuning.
Leave a comment on this post...
Topics: fanie viljoen nova: die begin
Die skrywer met 'n hart
Thu 19 Aug 2010, 15:02 0 Comment(s) Report AbuseNou en dan gebeur daar in die sloer van 'n mens se daaglikse bestaan 'n wonderwerk in die kleine.
Saterdag het ek so 'n Aah-oomblik gehad.
Die dag was goed beplan. Kind 2 moet aan 'n hokkietoernooi gaan deelneem, Kind 3 moet na 'n partytjie toe gaan en Kind 1 sal saam met Pa die ander twee rondry terwyl ek Dames Perspektief se Skrywersdag met Etienne van Heerden by Naln bywoon. Als mooi netjies gereël.
Tot Kind 1 huilend vasskop. "Ek vóél nie lékker nie! Ek moet élke Sáterdag langs die hókkieveld staan en speel nóóit óóit 'n wédstryd nie!!"
En dit is eintlik die wortel van die groot voel nie lekker nie. Die hartseer van Ousus is in die D-span en Kleinsus in die B-span.
Ai tog.
"Sal jy beter voel as jy saam met my na 'n lang praatjie gaan?"
Dadelik helder die bruin oë op.
"Ja."
En daar beleef ons twee toe ons Aah-oomblik by Naln.
Nadat Volksblad se fotograaf die nodige foto's geneem het, mik ek om met my selfoon 'n foto van Dogtertjie en die Skrywer te neem.
"Ek sal neem," sê die fotograaf.
Toe kniel Etienne van Heerden langs my kind en gee sy sak vir haar om vas te hou vir 'n ekstra mooi foto.
"Die skrywer as nar," sê Leana van Naln wat die praatjie met hom moet lei.
Maar ek dink nee, die skrywer met 'n hart.
My kind se dag was gemaak.
"Nevermaaind die hokkie," hoor ek haar vir Kleinsus vertel, "ek het 'n baie belangrike skrywer ontmoet en 'n foto saam met hom geneem."
Leave a comment on this post...
Topics:
Sondes van die vaders... en die moeders
Fri 6 Aug 2010, 09:00 3 Comment(s) Report AbuseDie sondes van die vaders sal die kinders besoek - tot in die derde en vierde geslag.
Hierdie Bybel-vers, eintlik hierdie verskriklike oordeel, spook al van my kinderdae af by my.
Watter vreeslikhede het my voorvaders aangevang wat my dalk kan besoek?
Hoe kan God so 'n erge oordeel uitspreek oor iemand wat nog nie eens gebore is nie? Onregverdig!
Tot so twee weke gelede. Toe tref die betekenis hiervan my.
En eintlik het dit min met God en baie met menswees te doen.
Ek het begin verstaan toe 'n vrou van 82 steeds met bitterheid van haar moeilike kinderdae gepraat het. Haar ma het haar suster voorgetrek, haar ma het niks vir haar oorgehad nie. Ná 82 jaar hou die verwyt en galbitterheid steeds aan.
Of die ander een wat ek ook gesien het: Ek gaan my vrou skei. Ek drink. My lewe is 'n mislukking. My pa het gedrink, my ma gelos en dis als sy skuld. Dis hy wat maak dat my lewe 'n totale ramp is.
So kan die lys aangaan en aangaan. Die een verwyt na die ander kan jy voor jou ouers se deur lê, en hulle voor hul ouers s'n, en terug en terug. 'n Bose kringloop wat geslagte lank kan aanhou as jy dit toelaat.
Só besoek die sondes van die vaders (en die moeders) die kinders tot in die derde en vierde geslag.
Hoe hartseer.
Leave a comment on this post...
Topics:
Te veel vryheid
Mon 26 Jul 2010, 08:32 0 Comment(s) Report AbuseBenewens die boekeblad wat ek hanteer, is ek ook 'n subredakteur. Baie mense dink dit beteken ek is net onder die redakteur, maar 'n subredakteur se werk is iets heel anders. Ons doen bladuitleg en lees al die berigte deur vir feitefoute, laster, taalfoute, slyp 'n berig dat dit foutloos in die koerant verskyn en skryf die opskrifte. In die loop van 'n dag lees ons nogal baie en sien baie mense se menings oor 'n wye verskeidenheid onderwerpe.
Die afgelope tyd het ek begin wonder oor mense se begrip van wat vryheid is.
Ek het gedink die vryheid van 1994 het 'n einde gebring daaraan dat die staat vir jou dink en besluit. Ek sien dit is nie so nie. Hoe meer die staatsmasjien verander, hoe meer bly dit dieselfde.
Eers moes jy 'n Broederbonder wees om in sekere instellings 'n plek te verdien, nou moet jy ANC wees. Eers het die NP besluit wat in die koerante mag staan, nou sien ek die ANC is op pad om wetgewing in te stel wat die media se mond sal snoer.
Ek het gedink vryheid beteken om geleenthede te hê en dit aan te gryp om jouself bo jou omstandighede te verhef deur harde werk. Ek sien dit is nie so nie.
Vir baie mense beteken vryheid 'n staatstoelae, 'n gratis huis, gratis kospakkies. In kort, die staat moet vir my als doen en ek hoef net te vat. Geen verantwoordelikheid vir my nie, dankie.
Ek sien vir baie beteken vryheid om jou sakke so vinnig as moontlik vol te maak en so uitspattig as moontlik te leef. Dis mos ''payback time". 'n Groot kontrak beteken nie noodwendig gehalte moet gelewer word wat gelyk is aan die geldwaarde nie, maar eerder om soveel as moontlik in jou eie sak te kry en 'n produk daar te stel wat maar minderwaardig is.
Ek het gedink vryheid beteken om te doen wat jy wil. Ek sien dit is nie so nie, want al meer mense doen net wat hulle wil. En ek sien dis gevaarlik, want die uiteinde van bandelose vryheid is 'n wettelose, gewelddadige samelewing soos die een waarin ons leef.
Dis ook nie altyd groot oortredings nie. Niemand wil beperk word nie. Ons is so geneig om te sê hulle doen dit, daarom doen ek dit ook. Kyk maar net hoe mense bestuur en eenvoudige goed soos verkeersreëls oortree asof dit nie bestaan nie. Maar daar is ook oortredings wat jou hart laat stol as jy lees hoe wreed een mens teenoor 'n ander kan wees. As jy wil sien hoe 'n moord mense se lewe kan ontwrig, lees 'n Hemelhoë hekkie van Douwleen Bredenhann. Dit ruk jou aan die hart.
As student moes ek as deel van die HOD-kursus wysgerige pedagogiek neem. Prof. van Loggerenberg het ons die volgende geleer:
Wat is ware vryheid?
Ware vryheid moenie verwar word met bandeloosheid en onverantwoordelikheid nie. Ware vryheid is slegs moontlik binne die wet van God.
Ek sien nou dat die prof reg was. Dalk leef ons in 'n samelewing met te veel vryheid.
Leave a comment on this post...
Topics: vryheid
'n Koei van 'n ma
Fri 16 Jul 2010, 09:34 5 Comment(s) Report AbuseToe Louise haar vierjarige kind afjak, wonder sy: “As jy nie tyd vir jou kind het nie, wat ’n koei van ’n ma is jy nie. The cow jumped over the moon” (bl. 109).
Hierdie woorde wat Stoffel Cilliers in 'n resensie van Francois Bloemhof se Die Onbekendes aanhaal, het my in my spore gestuit. Want dis ek daai.
Ek is, soos baie ander vroue, 'n werkende ma. Werk eis 'n groot deel van ons dag op, tap ons energie - fisiek en emosioneel. En dikwels gebeur dit dat ná 'n veeleisende dag my geduld dun is. Dis dan dat ek afjak, goed sê wat ek nie regtig bedoel nie, luister na eindelose stories, maar nie regtig hoor nie.
Dan dink ek weer aan wat my dogtertjie in haar werkboek geskryf het toe sy in gr. 1 was. Die juffrou het geskryf: My ma...
My kind se antwoord was: My ma werk by die Volksblad.
Dit het my met gemengde gevoelens gelaat. My kind is trots daarop dat ek by die Volksblad werk, my kind weet darem waar ek werk.
Maar my kind het nie geskryf my ma is lief vir my nie, my ma doen goed saam met my nie.
Dis die slegste deel van werkende ma wees - daardie gevoel dat jy nie altyd daar is vir jou kind nie. Die koestering wat jy wou of moes gee, moes verbeur of uitstel tot later.
Ek geniet my werk en dink dis nodig dat vroue werk. Soms kyk ek na my nie-werkende vriendinne en dink: Wat 'n vermorsing van talent. Dis nie dat hulle niks doen nie, dis net dat hulle soveel meer kan doen.
Nogtans wonder ek soms of die wêreld nie so 'n hardvogtige plek geword het omdat so baie kinders van hul babadae af hulself in 'n groep moet handhaaf en hulself moet ''verdedig'' nie.
Die oplossing is nie eenvoudig nie. Intussen probeer elkeen maar net om haar kinders na die beste van haar vermoë groot te maak.
Leave a comment on this post...
Topics: francois bloemhof werkende ma
User Profile
VB:BOEKEBLOG
| Gender: | Female |
|
Send Message |
| City: | Bloemfontein | ![]() |
Add to friends |
| Country: | South Africa | ![]() |
Block user |
Stats
Afrigator Rank
| Views: | 5042 |
| Comment(s): | 17 |
| Rating: |
| Get in-depth stats on your blog and see where you rank on 24.com and in the whole of SA. Click here to activate. |
Subscribe to this blog
Subscribe to email updates from this blog
|
|
Subscribe to RSS updates from this blog |
Invite
You have 2 subscriber(s)
Badges
- Nova: Die Begin2010/08/26 01:25:02 PM
- Die skrywer met 'n...2010/08/19 03:02:53 PM
- Sondes van die vad...2010/08/06 09:00:24 AM
- Te veel vryheid2010/07/26 08:32:06 AM
- 'n Koei van 'n ma2010/07/16 09:34:53 AM


