Tweet vir `n lewe

Thu 24 Jun 2010, 14:52        1 Comment(s)     Report Abuse

Die van julle wat op Twitter is besef seker teen die tyd dat talle maatskappye die webwerf kan gebruik om baie goeie PR vir hulle brand te skep. MTV is een van hierdie maatskappye en hulle beplan nou om Twitter te gebruik vir goeie bemarking.

 

Hulle soek nou na iemand wat sosiale media goed ken en effektief kan gebruik om `n Twitter Jockey (TJ) te word. Disc Jockeys (DJ) en Video Jockeys (VJ) is lyk my ou nuus - die nuwe plek waar alles gebeur is op Twitter en Facebook!

 

MTV gaan ook nie die gebruiklike proses volg om iemand aan te stel nie - hulle het 18 kandidate geidentifiseer en het hul gehoor gevra om nog twee mense te nomineer. Die 20 siele sal dan aan internet-uitdagings deelneem om te wys waar hulle vaardighede lê. Die TJ sal verslag doen oor MTV-geleenthede en so nou en dan ook op MTV verskyn.

 

MTV se base sê hulle sal die insigte wat die TJ uit sosiale netwerke put gebruik om hul programinhoud aan te pas. Die gelukkige TJ sal in New York bly en glo `n meneer van `n salaris verdien.

 

Klink dit soos iets wat jy sal wil doen?

 

Bron: AP

Leave a comment on this post...

Topics:  mtv. sosiale netwerke  


Wat maak die kinders?

Tue 13 Apr 2010, 12:35        0 Comment(s)     Report Abuse

As jy wil weet waarheen die samelewing op pad is - hou die kinders dop.

 

Bogenoemde stelling word in baie kulture oor die wêreld heen aanvaar en dit nog soveel meer van toepassing op die gebruik van die internet en tegnologie oor die algemeen. Hierby sluit kinders se mediagewoontes ook nou aan en dit is van belang vir enigiemand wat as `n nuusgebruiker bestempel kan word.

 

Dis nie net ek wat hierin belangstel nie maar ook die Kaiser Family Foundation het breedvoerige navorsing hieroor gedoen deur meer as 2 000 families te ondersoek. Hulle het `n hele paar interessante goed gevind.

 

Kinders gebruik die media so baie dat hulle so te sê daardeur verswelg word. Hulle is amper elke oomblik van elke dag met iets besig wat met die media verband hou en hulle diskrimineer ook nie met die vorm van media wat hulle gebruik nie.

 

Slegte nuus vir ons siele by koerante is dat kinders bitter min van die gedrukte media gebruik maak en dat die bietjie wat hulle wel gebruik al minder word. Hulle gebruik van die digitale media is egter BAIE hoog.

 

Dit lyk egter nie asof ma en pa juis gepla is hieroor nie.

 

In twee derdes van die huishoudings wat ondersoek is, was televisies aan gedurende etes. Maar in 75% van hierdie huishoudings was televisies aan sonder dat enigiemand besig was om iets daarop te kyk. Meer as 70% van die kinders in die studie het televisies in hul kamers maar net `n derde van die huishoudings het reëls ten opsigte van mediagebruik.

 

Die studie het ook bevind dat kinders wat die meeste media gebruik die vrotste doen in hul skoolwerk. Beslis nie toevallig nie...

 

Natuurlik is die studie nie in Suid-Afrika gedoen nie maar die implikasies van mediagebruik onder die jeug kan beslis nie onopgemerk verbygaan nie.

 

As jy meer wil lees gaan hierheen.

 

Bron: http://www.businessinsider.com/media-use-by-8-18-year-olds#ixzz0kyTxTsHl

 

Leave a comment on this post...

Topics:  kinders   mediagebruik  


`n Gedaanteverwisseling met die internet se hulp

Tue 9 Mar 2010, 12:19        1 Comment(s)     Report Abuse

Die afgelope jaar of wat het ek `n ietwat van `n gedaanteverwisseling ondergaan. Ek het gegaan van die couch potato wat heeltyd sit en televisie kyk of Xbox speel tot `n relatiewe sportfanatikus. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek het nog altyd baie sport gekyk. Maar dit het by kyk gebly. Die meeste oefening wat ek gekry het was om die pak chips in die kombuis te gaan haal en `n ietsie te drink langs die pad te gryp.

En toe? Wel, ek weet nie. Ek het begin oefening doen in `n desperate poging om my gewig onder beheer te kry en toe ek weer sien toe hou ek daarvan.


Nou ja, geek was ek is, het dit my nie lank gevat om die internet te gebruik om my nuwe stokperdjies te ondersteun nie.

En mensig, hoeveel wonderlike inligting is daar nie vir die ou wat skielik `n fassinasie het met bv. driekamp, fietsry of hardloop nie. Daar is meer as genoeg wonderlike bronne om jou vinnig tot `n wonderlike 10km-tyd te kry – mits jy darem `n bietjie oefen ook!

Veral Twitter is `n handige ding om te gebruik om jou kennis op te skerp. Volg eenvoudig `n paar atlete en webwerwe wat goeie inligting verskaf en jy sal gereeld iets nuut by jou oefenprogram kan voeg. Voorbeelde is active.com en Cool Running. Gaan kyk gerus.

So gepraat van oefenprogramme, jy kan die allerbeste op die internet kry. Wêreldberoemde afrigters soos Jeff Galloway het webwerwe waar jy topoefenprogramme kan kry, sowel as raad oor enigiets wat jy kan nodig kry.

Vir die wat hulle gewig dophou terwyl hulle oefen is daar webwerwe soos Calorie Count en Prevention. Met Calorie Count kan jy uitwerk hoeveel kilojoules jy behoort in te neem op `n daaglikse basis en dit kombineer met oefening om gewig te verloor. Kundiges gee ook op die webwerf raad oor onderwerpe wat wissel van watter tipe vet jy behoort in te neem tot hoe om jouself te motiveer.

Met al hierdie bronne op die internet beskikbaar het ek seker nie `n verskoning om van my peervormige lyf ontslae te raak nie. En jy ook nie!

Leave a comment on this post...

Topics:  oefen   handige webwerwe  


Ontmoet die iPad

Mon 15 Feb 2010, 16:27        1 Comment(s)     Report Abuse

Ek is mal oor gadgets. Hoe blinker, hoe beter. Ek is die outjie wat opgewonde by `n selfoonverskaffer staan met ure se navorsing op die internet agter my, en letterlik op en af spring by die gedagte aan `n splinternuwe selfoon met allerhande applications wat ek dalk nooit sal gebruik nie maar heel moontlik baie sal gebruik! Ek kan vir jou al wat `n selfoon of rekenaars is se specs aframmel, al het ek dalk nog nooit een besit nie. Dis heerlik!

So toe Steve Jobs uiteindelik die nuwe iPad onthul was ek baie opgewonde en ek het heelwat van die magdom artikels, blogs en opiniestukke oor die toestel gelees. Aangesien ek nou nie `n hotshot tech-skrywer is nie, het ek natuurlik nog nie een van die outjies onder oë gehad nie maar hier is vir jou `n bietjie inligting om aan te kou totdat die iPad uiteindelik in Suid-Afrika arriveer.

Die iPad is wat hulle noem `n tablet computer - iewers tussen `n rekenaar en `n smart phone. Sy skerm is omtrent agt keer so groot soos `n iPod Touch s'n en is `n raakskerm wat interaksie met teks, video, foto's en klank inkorporeer. Hy kan deur middel van Wi-Fi toegang kry tot die internet en sommige modelle sal 3G kan gebruik. Hy sal applications gebruik wat spesifiek vir die toestel ontwikkel is, sowel as meeste iPhone OS applications.

Sy skerm is 24.3x19 cm groot. Sy CPU sal so 1 GHz uitskop en hy sal flash memory van 16/32/64 gig gebruik. Sy battery sal so 10 ure hou. Hy gaan uitkom met 12 applications met die res wat afgelaai kan word.

 

Hy sal in Maart 2010 en `n volgende model in April 2010 in Amerika uitgereik word.


So wat sê die ouens wat weet? Wel, sommige dink die iPad is die handigste stukkie tegnologie ooit terwyl ander skaars kan glo dat daar soveel opgewondenheid daaroor is. Wat ek wel weet is dat die iPad `n hele paar tekortkominge het wat my nogal pla.


Die outjie kan byvoorbeeld nie meer as een application op `n slag hanteer nie, het nie `n USB-port nie en werk op die iPhone OS - iets wat my nie juis opgewonde maak nie. Ek wonder ook of daar regtig plek is in die mark vir `n iPad met klein rekenaars en iPhones wat reeds in die aanvraag voorsien.

 

Ja, die outjie gaan pragtig wees met ongelooflike graphics maar daar is ook heelwat te sê vir die funksionele aspek van die tipe produk.


Die vraag bly ook wat `n iPad in Suid-Afrika gaan kos? Indien hy relatief goedkoop is, sal mense hom koop ten spyte van sekere probleme. As hy duur is, sal dit dalk `n speelding vir die rykes bly en dis res van ons sal maar bly by ons skootrekenaars en smartphones.

 

Bronne: www.apple.com/ipad/ en www.wikipedia.org.

 

Leave a comment on this post...

Topics:  ipad  


Snelle groei verstom

Wed 3 Feb 2010, 14:51        1 Comment(s)     Report Abuse

Die Internet is een GROOT plek. Dit besef ek elke dag meer en meer. En as `n mens kyk hoeveel dit elke dag groei kan jy jouself skaars indink hoe groot dit gaan wees oor tien of twintig jaar!

 

Ek het vroeër die week `n tweet gesien oor hoe ongelooflik die kapasiteit van die sosiale netwerke is. Luister `n bietjie hier:

 

Die mense by Facebook beweer dat sowat 50% van mense wat aktief die netwerk gebruik, elke dag daar kom loer wat aangaan. Dit beteken hulle kry ten minste 175 miljoen besoekers elke 24 uur. Dis nogal `n aansienlike toename van 120 miljoen af.

 

Twitter het nou 75 miljoen gebruikers maar slegs 15 miljoen daarvan is gereelde gebruikers. Dis glo `n toename van tussen ses en tien miljoen `n paar maande terug.

 

Vir die van julle wat graag wil Gesigboek in plaas van Facebook - jy kan Facebook in 70 verskillende tale (ook in Afrikaans - probeer dit `n slag!). `n Rukkie terug kon jy slegs in 50 tale Facebook.

 

My persoonlike obsessie daarmee om heeltyd in kontak met al wat `n siel is, te wees het my daartoe gedwing om Facebook Mobile te gebruik vir die enkele kere wat ek nie agter `n rekenaar is nie. Klink my ek is darem nie alleen nie - sowat 65 miljoen gebruikers doen dieselfde. Dit is `n allemintige toename van 100%!

 

Ek is wel nie so fluks soos die ouens wat 10 of meer ure aan hulle blogs spandeer nie - sowat 15% van bloggers daar buite spandeer soveel tyd aan die stokperdjie.

 

Nou ja, of jy nou glo in die mag of selfs nuttigheid van sosiale netwerke of nie - niemand kan met sulke stats stry nie! Sosiale netwerke is die handigste ding om weer by ou vriende uit te kom en nuwe vriende te maak. Jy kan sommer begin deur na Volksblad se fanpage te gaan loer - kom kuier lekker saam met ons!

 

Bron: http://econsultancy.com/

 

 

Groete

Corli van der Merwe

Volksblad: Webredakteur

cornelia.vdmerwe@volksblad.com

 

 

Leave a comment on this post...

Topics:  sosiale netwerke  


Page 
1   2   | Next

Tools

Help!

User Profile

Webblog

Gender: Female Send Message Send Message
City: Bloemfontein Add to Friends Add to friends
Country: South Africa Block Block user

Stats

Afrigator Rank

Views: 2808
Comment(s): 5
Rating:
Get in-depth stats on your blog and see where you rank on 24.com and in the whole of SA. Click here to activate.

Subscribe to this blog

Subscribe to email updates from this blog

Subscribe to RSS updates from this blog

Invite

You have 1 subscriber(s)

Badges

(1)

Fans

Zeppie

(0)

Blog Roll

Recently Updated Blogs

rosiemetdorings roosdoring Virtual Par... Ennui genie01 genie01
Mindinsync Mindinsync Springbok rugby McLook spenelo Spenelo

Archive

janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec