Welkom in vuvuzela-land!

Tue 15 Jun 2010, 15:48        0 Comment(s)     Report Abuse

Dit is daardie magtige dreuning wat jy die afgelope ruk lank sonder ophou hoor, dit is die kenmerk van Suid-Afrika se sokkerkultuur en vir baie 'n steen des aanstoots.
 
Ja, dit is natuurlik sokkerliefhebbers se geliefde vuvuzela waarvan gepraat word. Kenmerkend by plaaslike sokkerwedstryde in Suid-Afrika en nou ook die trompet wat elke wedstryd op die Wêreldbeker-sokkertoernooi inlui en elke sokkerspeler en ondersteuner in ons mooi land verwelkom. Maar vir baie het hierdie beuel, wat so eie aan Suid-Afrika is soos biltong en skaapafval, skielik 'n oorlas geword.
 
Snaaks genoeg het ons almal gedeel in die gees wat in afwagting op die openingseremonie en die land se grootste sokkerskouspel opgebou het. Toe het die meeste van ons elke Vrydag ons Bafana-hemde aangetrek werk toe en met of sonder 'n vuvuzela in groepies saamgedrom om ons patriotisme aan die wêreld daar buite uit te straal. En ons het nie getob oor wie waar 'n vuvuzela blaas om sy ondersteuning vir Bafana en die toernooi in die geheel te wys nie. En om elke hoek en draai is regeringsamptenare en ander hoës afgeneem waar hulle uit volle bors hul vuvuzelas blaas.
 
By die openingseremonie die afgelope Vrydag het duisende vuvuzelas Bafana en sy ander 31 mededingers amptelik welkom geheet. En daardie duisende lastige plastiektrompette het die einste Bafana aangemoedig in hul wedstryd teen Mexiko. Maar soos 'n handomkeer het hierdie simbool van sokker verander in iets wat byna almal verpes. As 'n mens een hoor,  dink jy onmiddellik aan elke derglike plek, insluitend die keelgat, waarin jy daardie vuvuzela af, of is dit nou op, wil druk.
 
Hoekom het die wêreld skielik sy rug gedraai op iets wat hy vooraf gehoop het aansteeklike sokkergees onder ondersteuners sou help aanwakker? Het ons skielik vergeet dat die toernooi oor bietjie minder as 'n maand verby is en daardie trompet deur die meeste ondersteuners dan tot die volgende toernooi in Suid-Afrika in sy kas gegooi sal word om stof te vergader? Waar is ons gees? Het die skeptici wat gedink het hierdie toernooi gaan 'n volslae mislukking wees nou 'n ander 'vabond' gekry waarop hulle hul frustrasies kan uithaal?
 
Die afgelope paar dae word in die media hard en duidelik teen die vuvuzela uitgevaar. Webwerwe is op die been gebring waar mense hul stem teen 'n vuvuzela-vrye sokkertoernooi dik maak. Oral word gevra dat hierdie simbool van sokkerliefde verban word. Maar wat gaan dit help? Fifa het reeds aangedui dat vuvuzelas die sokkergees aanwakker en dat hulle nie teen die lawaai gekant is nie. En soos ons die afgelope paar maande voor die toernooi al geleer het: Fifa se woord is wet.
 
Ja, daar is selfs spelers wat kla dat die sokkertrompet 'n steurnis is as hulle op die veld om daardie goue trofeetjie meeding. Maar daar is ook spelers wat aangedui het die vuvuzela is die eerste ding in hul reistas wat hulle vir hul kinders na hul onderskeie lande terugneem. En dit omdat die kinders oor die televisie gehoor het watter gees hierdie ergernis nou eintlik in stadions help kweek.
 
Ek is nie vir of teen die vuvuzela nie. Maar wat ek wel verseker weet, is dat die toernooi lankal verby gaan wees dan gaan klaers nog sukkel om hulle verban te kry. Miskien moet ons eerder al ons energie daarop fokus om Bafana te ondersteun in hul soeke na sokkerglorie in plaas daarvan om die sokkergeesdriftiges in Suid-Afrika se vuvuzela-blasende monde te probeer snoer.

Leave a comment on this post...

Topics:  sokker   vuvuzela  


Div en Franse selfone

Mon 31 May 2010, 15:23        0 Comment(s)     Report Abuse

Peter de Villiers, Springbok-breier, se goeie gebaar teenoor die Bok-flank Juan Smith het vandeesweek byna ongesiens verbygegaan toe sy stram verhouding met Frans Steyn aan die lig gekom het.


Div het vandag ’n noodvergadering met Steyn oor sy betrokkenheid in aanstaande naweek se Bok-toets teen Wallis, omdat die heelagter blykbaar nie wil speel nie.


Steyn, wat vir die Franse klubspan Racing Metro uitdraf, is een van ’n paar oorsese spelers wat vir die kragmeting gekies is, maar dit wil voorkom of hy en Snorre nie om dieselfde vuur sit nie.


Hoewel Steyn onder die leiding van De Villiers se voorganger, Jake White, in die Groen-en-Goud geblom het, werk die telefoonlyne tussen die Bok-breier en Steyn glo nie te goed nie.


De Villiers het Maandag vir Smith by sy huis in die Rosestad besoek nadat hy hom aan die Bokke se kragmeting teen die Rooi Drake onttrek het. Dié twee het ooreengekom dat Smith sy pa se onlangse dood gaan verwerk en hy eers weer in Augustus vir die Bokke sal uitdraf.


Die flank het sy afrigter geprys vir die goeie verhouding wat hy met sy spelers het en meen dat dit ’n groot deel deel van sy sukses uitmaak.


Juis daarom is Div, wat as ’n meer as bekwame spelers-bestuurder voorkom, se struwelinge met Steyn kommerwekkend.
Nadat Sport24 die Steyn-sage onthul het, het die breier erken dat hy al eintlik twee weke gelede deur Steyn se agent, Gerrie Swart, per e-pos in kennis gestel is dat die die Bok nie gaan speel nie.


Nou hoekom kies jy dan nog die man of waarom dit tot op die nippertjie los om die probleem op te los?


De Villiers se verweer is dat hy nie vir Steyn, wat ’n Suid-Afrikaanse en Franse selfoonnommer het, in die hande kon kry nie.
Steyn het dalk nie dadelik sy foon geantwoord nie, maar as jy die Bok-breier is kan dit tog nie so moeilik wees om hom op te spoor nie. As jy dit nie self regkry nie, is jy seker veronderstel om genoeg mannekrag tot jou beskikking te hê om dit vir jou te doen of hoe?


Heelagter is boonop een posisie waar die Bok-span nog ’n oorsese speler kan bekostig en Steyn het al menigte male gewys dat hy steeds ’n sleutelspeler in 2011 se Wêreldbeker-toernooi kan wees.


Daarom hoop ’n mens dat Steyn en Snorre vinnig die strydbyl kan begrawe en dat hy sommer reeds in die Millennium-stadion sal uitdraf.

 

Johann Thormahlen, Sport24-verslaggewer: Bloemfontein

Leave a comment on this post...

Topics:  pieter de villiers; springbokke  


Wie is jou topspelers in die Super14?

Tue 11 May 2010, 11:17        0 Comment(s)     Report Abuse

Met die Super14-kampioen wat op 29 Mei gekroon word en die Bokke ’n week later terug op die toetsveld, het Sport24 15 voormalige Springbokke gevra om hul Superrugby-uitblinkers van 2010 se reeks aan te wys.

 

Dié oud-Bokke speel keurder in die posisie waarin hulle self die Bok-trui gedra het. Johánn Thormählen het hulle oor hul keuses uitgevra.

 

Lees die storie hier. Wat dink jy van die oud-Bokke se menings? Sien jy `n paar name wat jou verbaas of dalk het jou gunsteling nie die lys gehaal nie. Vertel ons wat jy dink...

 

Leave a comment on this post...

Topics:  super14  


Vodacombekerreeks hét waarde!

Fri 7 May 2010, 16:06        0 Comment(s)     Report Abuse

Die Vodacombeker-rugbyreeks word soos gebruiklik elke jaar  tydens  die Super14-rugbyreeks aangebied en dien as goeie blootstelling vir veral jonger, minder ervare spelers. Veral met die oog op die Curriebeker-reeks later in die jaar wil jong spelers vir hulle kleim afsteek by hul provinsies.


En sommige van die Vodacombeker-spelers kry dan ook op Super-vlak kans om te speel, al is dit net omdat van die senior manne beseer raak. Maar die probleem waarmee elke Vodacombeker-afrigter worstel, is waar om plaasvervangers te kry vir spelers wat na hul streke se Super14-spanne opgetrek word.


Baie van die groter unies wat spanne in die Super14-,  sowel as in die Vodacombeker,  laat meeding, soos die Blou Bulle, Westelike Provinsie en Sharks, het oorgenoeg diepte en ook diep broeksakke as dit by spelers kom. Dit is geen probleem om beseerde spelers of dié  wat bevorder word, te vervang nie.


Daarby het die meeste van hulle ook speler-akademies, waar jong spelers geskoei word vir senior rugby nadat hulle op skolevlak al as talentvolle spelers raakgesien is.


Maar die meeste van die kleiner unies soos Griekwas, die Valke en Luiperds, het 'n beperkte begroting waarvolgens spelers aan die begin van die seisoen gekontrakteer word. Daar is dus 'n sekere aantal gekontrakteerdes en as driekwart van hulle beseer raak of opgetrek word na die Super-spanne, kan dit 'n tamaletjie raak vir die afrigters.


Dan gebeur dit dat spelers aangewend word in ander posisies as waarin hulle spesialiseer, of dat spelers wat nog van beserings herstel, noodgedwonge ingespan moet word omdat daar net nie geld is om ander in hul  plek te kry  nie.
Veral in Griekwas se geval is bogenoemde van toepassing.

 

Met 'n beperkte begroting en net soveel gekontrakteerdes was vanjaar se Vodacombeker-reeks 'n moeilike een vir die Poubloues. Heelwat van hul spelers is beseer en dan is 'n groot aatnal van hul mees ervare manne opgetrek na die Cheetahs se Super14-span.


Spelers soos Naas Olivier (losskakel), Riaan Viljoen (heelagter), Davon Raubenheimer (flank), Rayno Barnes (haker), Barry Geel en Wilmaure Louw (senters) en Bjorn Basson (vleuel) het almal by die Cheetahs speelkans gekry, en met reg.

 

Maar deurdat soveel van Griekwas se senior spelers opgetrek is, het deelname aan die Vodacombeker-reeks aansienlik moeiliker gemaak.


Die Noord-Kapenaars is verlede jaar as kampioen van laasgenoemde reeks bekroon, maar het vanjaar in die kwarteindronde teen die Haaie-vyftiental die knie gebuig. Met heelwat onervare spelers en ook noodgedwonge posisionele skuiwe het Dawie Theron (afrigter) en sy afrigtingspan veel beter gedoen as wat vooraf verwag is.


Ongeag alles kan die waarde van die Vodacombeker-reeks nie onderskat word nie. Dit bied die meeste unies kans om hul spelers broodnodige blootstelling te gee, terwyl afrigters ook kan bepaal  watter diepte hulle het vir die Curriebeker-reeks. Maar spanne wat nie in die Vodacombeker presteer nie, se afrigters moet nie dadelik as onbeholpe afgemaak word nie.

 

Hou in gedagte wat hulle alles die hoof moet bied om mededingende spanne aanmekaar te slaan.

 

Gerdie Karstens

Sport24-verslaggewer in Kimberley

Leave a comment on this post...

Topics:  vodacombeker   griekwas  


2010 is hier!

Thu 22 Apr 2010, 16:30        0 Comment(s)     Report Abuse

2010 WB is op ons en elkeen het reeds sy gunsteling.


Na sy vertonings vir Barca in die Kampioeneliga is daar baie wat meem Argentinië se Lionel Messi gaan die wêreld ook hier kom mesmeraais. Die gestreepte wit en ligblou speelhemde van die Argentyne is ook baie gewild by handelaars.


Maar wie is jou gunsteling? Die Rooi Een, skree ek ander dag oor my lessenaar vir ’n kollega.

 

Wie? La Roja, Spanje natuurlik.


Op 19 Mei kondig Vicente del Bosque sy 23 uitsoekspelers aan. Die wêreld se voorste span behoort besaai te wees met supersterre van die Europese ligas.


Gaan Fernando Torres van Liverpool een van hulle wees? Dit ’n ope vraag nadat die dodelike doelskieter intussen ’n knieoperasie ondergaan het en nou ses weke moet rus. Hy meen hy behoort oorgehaal te wees wanneer Shakira-hulle met die openingslied lostrek.


’n Mens wonder waar Spanje se gedagtes  met dié plegtigheid sal wees.


Hy het verlede jaar hier met die Konfederasiebeker oor die onaardige gezoem van ons vuvuselas gekerm.
Die speelopppervlak van sommige velde was ook nie na smaak vir die wêreld se topspan nie.


Spanje is na sy rekord 15 seges op ’n streep deur die Yanks in die halfeindstryd in Bloemfontein verras.

 

Hy behoort nietemin vanjaar, selfs sonder ’n Torres, in sy 13de probeerslag te verbeter op sy vierde plek van 1950 – sy beste vertoning tot hede toe.


Spanje se goeie vertoningslys maak hom baie se gunsteling. Hy was voor sy nederlaag teen Amerika, onoorwonne in 35 wedstryde.


Die enkele glyslag hier in die Rosestad was ook sy enigste in 45 wedstryde na die goeie onlangse sege oor die Franse in Parys.


So pasop, hier kom die Rooies – met of sonder El Nino!

 

Johann de Jager: Sokkerskrywer - Sport24

Leave a comment on this post...

Topics:  2010  


Page 
1   2   3   | Next

Tools

Help!

User Profile

VB: Sport

Gender: Female Send Message Send Message
City: Bloemfontein Add to Friends Add to friends
Country: South Africa Block Block user

Stats

Afrigator Rank

Views: 7211
Comment(s): 9
Rating:
Get in-depth stats on your blog and see where you rank on 24.com and in the whole of SA. Click here to activate.

Subscribe to this blog

Subscribe to email updates from this blog

Subscribe to RSS updates from this blog

Invite

You have 1 subscriber(s)

Badges

(0)

Fans

(0)

Blog Roll

Recently Updated Blogs

rosiemetdorings roosdoring Virtual Par... Ennui genie01 genie01
Mindinsync Mindinsync Springbok rugby McLook spenelo Spenelo

Archive

janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec